Blog, Events @ Lake Umuzi, Lake Umuzi News, Mvua Wellness Spa

Lente by Lake Umuzi in Secunda

Dit is heerlike Lente September by Lake Umuzi

Noudat die winter uiteindelik sy kloue losmaak en lente vrolik neurie, kan die polsende opgewondenheid in die lug gevoel word. Nou is die tyd om die winterkombers af te gooi en die oorgang van die seisoen te geniet. Kom ons kyk na ʼn paar opsies wat by Lake Umuzi en die dorp van Secunda vir ons wag.

Lake Umuzi Waterfront
eish!! Familie restaurant se Bokpark het die regte atmosfeer om jou as rugbyondersteuner in die regte luim te hou tot die eindstryd. Hier kan jy jou span ondersteun saam met vriende en mede-landgenote. eish!! maak ook elke Saterdagaand sy dansvloer oop met musiek vir elke smaak. Op die eish!! verhoog is gereeld ʼn sanger wat sorg dat die gehoor op hul voete bly. Saterdag 16 September is dit Bartho se beurt. Wanneer daar nie ʼn sangkunstenaar optree nie, word musiek oor die luidsprekers gespeel wat sorg dat die week se roes van stywe spiere afgeskoffel kan word.

Na twee suksesvolle jare het Mvua Wellness Spa uit sy nate gebars en ʼn tweede vloer is ingerig. ʼn Groter verskeidenheid van behandelings kan nou deur kundige en professionele terapeute aangebied word. Klik hier vir die kontak besonderhede. 

Mvua Wellness Spa

Alhoewel die knus gevoel van onder ʼn kombers sit met ʼn bakkie sop en glas wyn, nie te versmaai is nie, is dit nou tyd om die donsies af te borsel en die aandlug in te asem. Die verskeidenheid van restaurante op die Lake Umuzi Waterfront sal verseker dat enige smaak en gier bevredig word.

Die Bosveld Lapa gebou het ʼn splinternuwe baadjie aangestrek, en spog nou met ʼn nuwe toevoeging tot restaurante. Justino’s, spesialiseer in Portugese en Mosambiekse cuisine. Moet egter nie dink dit eindig daar nie.

Hennie’s is welbekend as kuierplek onder jonk en oud en binnekort is ook hierdie kuierplek se deure oop op die Waterfront in Secunda. Buiten genoemde is daar ook nog ander restaurante waaruit die kieskeurige eter kan kies. Dus het jy geen verskoning om nie jou honger en dors by Lake Umuzi te kom les nie.

Vir die mense wat nie kan wag om die son op die wintervelle te voel nie is die goeie nuus dat Aquazone Waterpark die 23ste September weer oopmaak na ʼn winterslaap. Let op dat die waterpark wel 23, 24 en 25 September oop is van 10:00 tot 17:00 en daarna elke Saterdag en Sondag dieselfde tye. Aquazone waterpark sal weer skoolvakansies elke dag oop wees waar van vroeg tot laat baljaar kan word.

AquaZone Waterpark

Vir die buitelugliefhebber is daar ʼn spik-splinter-skoon en moderne kampterrein. Kamp Oase is langs die meer geleë met grasbedekte kampplekke en twee swembaddens. ʼn Buite swembad asook een binnehuis. Bring jou visstok, kampstoel en koelboks en ontsnap van alles om jou. Terwyl die mans langs die meer ontspan kan die vrouens vir ʼn pamperlangsessie by Mvua Spa gaan. Vir die kleingoed onder 1.3 m is Carnival Square, die veilige binnehuise speelplek om te wees. En, vanaand wanneer die son sak, en die gesin is bymekaar, steek die braaivure aan en ervaar algehele rustigheid met die aandgeluide om jou.

Op dieselfde perseel as die restaurante is daar ook genoeg vir die avontuurlustige jongmens, oumens, kind en kraai te doen. Van laserspeletjies, rotsklim, aksiesport, of ʼn 18 putjie avontuurgolfbaan (Putt-Putt) en meer. Of besoek die brouery waar jy met ʼn varsgebroude bier kan ontspan.

Idwala Lite

Dwaal tussen die kuns in die kunsgalery rond en bewonder die talent van ons eie Suid Afrikaanse kunstenaars. Jy is ook welkom om in te skakel by een van die kunsklasse wat naweke aangebied word deur professionele kunstenaars.

The living art Gallery

September is nie net lente-maand nie, maar ook trou-maand. Hiervoor het jy die gebruik van die romantiese glaskas by Boesies nodig. Die bekwame span van Boesies sorg dat jou spesiale dag vir altyd met ʼn glimlag onthou sal word.

Ander dinge om te doen die maand van September in Secunda.
Slegs ʼn klipgooi van Lake Umuzi, is Graceland Hotel, Casino and Country Club, waar jy ʼn rondte of twee gholf kan speel. Bring jou gholfstokke en toets jou slaanvernuf op een van die beste gholfbane in Mpumalanga.

Een van die groot gebeurtenisse in Secunda, en iets wat Lake Umuzi na aan die hart lê, is die jaarlikse Mariki Mark vanaf 22 tot 26 September. Dit is ʼn geldinsamelings-inisiatief van Marietjie skool vir leergestremde kinders. Hierdie jaar bied die Mariki Mark ook ‘n Mariki MAAK projek aan, waar jy elke dag aan ʼn kuns aktiwiteit kan deelneem. Alle inligting is op hul facebook-blad Mariki Mark, of kontak die skool direk op 017 631 1474 vir meer inligting en besprekings.

Boesies Glasshouse

Net om alles vinnig saam te vat:
Soos winter sy aflosstok oorgee aan lente, het dit tyd geword om met nuwe energie die dae aan te pak. As jy hou van die buitelug, visvang en swem, of van die meer avontuurlustige uitdagings, soos rotsklim, en gholf, of net ʼn rustige aand met vriende en goeie kos en drankies, is daar iets vir jou by Lake Umuzi Waterfront in Secunda.
Skud die winter af en huppel die lente in met nuwe hoop, sprankel en energie.
Vir alle inligting en navrae: www.lakeumuzi.co.za

author-avatar

About Alma Swart

Alma Swart is ʼn entoesiastiese aspirantskrywer wat enkele kortverhale gepubliseer het. Haar agtergrond strek van dramaprojekte met tieners vir die gewilde fliek Klein Karoo asook die betrokkenheid by feesbeplanning vir die KKNK en InniBos. Deesdae is sy deel van die Lake Umuzi feesspan waar haar passie vir beplanning en mense uitgeleef kan word.

Related Posts

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *