Events @ Lake Umuzi, Lake Umuzi News

Umuzi Kunstefees

Umuzi Kunstefees Arts Festival at Lake Umuzi Waterfront Secunda South Africa

Dorp kry sy eie kunstefees.

Mpumalanga kry ‘n splinternuwe kunstefees by – in Secunda.

Van Suid Afrika se geliefde verhoogkunstenaars gaan te sien wees by die eerste Umuzi Kunstefees

Die 4de Julie skop die fees af met ‘n Laservertoning deur LaserX wat die dorp gaan verlig op maat van musiek deur blues-rock musikante Hollowbody en Albert Frost, die welbekende kitaarspeler en sanger wat ook ‘n SAMA gewen het vir beste “rock”-album in 2017.

LEFRA produksies bring twee van hul mees gewilde teaterstukke na die Umuzi Kunstefees. Liewe Heksie en Dinner for One.

Vrydagprogram:

Liewe Heksie maak vroegoggend die fees oop, besem en al. Hierdie kinderteater was die laaste verhoogstuk wat deur Verna Vels geskryf is voor haar dood. Die kleingoed word deel van Heksie se lewe en sal ure se pret en genot beleef..

Marion Holm in haar eenvroustuk Marion Holm, kyk met gans ander oë na die lewe en deur haar lense lyk gewone, alledaagse dinge snaaks… vrek snaaks

By Justino’s restaurant wys die televisie-sjef en Sarie se kosredakteur, Herman Lensing sy slag agter die potte.

Die nimlike Lizz Meiring vermaak ons met twee vertonings waarvan Van die rak af gebasseer is op die Skandinawiese konsep, waar nie ‘n boek uitgeneem word nie, maar ‘n mens. Die persoon, wat deur die gehoor gekies word, vertel sy lewensverhaal, met dikwels ‘n skreeusnaakse nadraai.

LEFRA se produksie Dinner for One, was vir dekades die televisie produksie wat families om middernag voor die televisie sit gemaak het. “Same procedure as last year Miss Sophie?:, is vandag nog ‘n frase wat spottendersgewys gebruik word.

Vrydagaand word afgesluit wanneer Tonya Koenderman vir ‘n kabaretvertoning gaan sorg wat lank die middelpunt van bespreking sal bly. Koenderman word nie verniet as een van die mees dinamiese kabaretkunstenaars beskou nie. Sy is ‘n klein pakkie dinamiet en het 16 maande lank die rol van Liza Minelli in die Sun City-verhoogproduksie Beyond Belief vertolk. Die vertoning met Tonya sluit ‘n 2 gang buffet-ete in waar almal saam kan eet, lag en dans die laataand in.

Saterdagprogram:

SAterdagoggend skop af met kosgeure deur die geliefde en welbekende akteur, sanger, en skrywer Lochner de Kock. Hy deel van sy geheime om jou kos lip-aflek-lekker te maak. Lochner vertel ook oor sy boek Liegende in die Living Art Gallery.

Lizz Meiring se tweede vertoning, Kameras, Konserte en Kleedkamerstories

Die vertonig is ’n klets en skets konsert en Lizz vertel van die woelinge en waansin, die tragedies en triomfe , die chaos en kreatiwiteit , die beroemdes en berugtes , die vreugdes en vertwyfelings van ’n lewe as aktrise.  In hierdie uiters vermaaklike stuk , vol verrassings oor die vermaaklikheidsbedryf , kry die gehoor ’n agter-die-skerms ervaring soos nog nooit vantevore

 

Die Emmy-benoemde akteur en Sama-benoemde liedjieskrywer Neil Sandilands bring sy aangrypende Afrikaanse musiek Umuzi Kunstefees toe. Sy optrede saam met die topmusikante Schalk Joubert, Frank Freeman en Ronan Skillen vorm deel van sy Land & Sand – toer.

Frank Opperman hou Reünie by dieselfde skoolsaal, maar 43 jaar later met die matrieks van 1980. Adam Boshoff is die verteller, en deur die loop van die aand kry verskeie klasmaats ’n beurt agter die mikrofoon om hul sê te sê. Lank terug het almal saam ’n tragedie beleef wat hulle nou vir die eerste keer regtig konfronteer.

Op die eish!! verhoog sal die komediant Melt Sieberhagen sorg vir genoeg pret tot die aanloop van die rugby wedstyd, Saterdagmiddag, tussen die Springbokke en Ierland.

Sondag word die fees afgesluit met ‘n Sondagmiddagvertoning en 2 gang buffet-ete deur die geliefde operasanger Jannie Moolman.

Die fees is so ontwerp dat dit moontlik is om elke vertoning te kan bywoon. ‘n Kortingspakket word aangebied waar al die vertonings gesien kan word, met of sonder akkommodasie.

‘n Kontantkroeg sal by alle vertonings beskikbaar wees.

Die Living Art Gallery het sy eie program waar uitmuntende kuns gesien kan word. Die tema “Die Blou van Onthou” word deur vier van ons bekende kunstenaar uitgebeeld. Al vier is professionele kunstenaars wat aktief deel is van die Pretoriase visuele kunskringloop: Dylan T. Graham, Danielle Malherbe, Miekie Lourens en Ronel Kellerman. Hul werk verteenwoordig verskillende mediums en verskillende onderwerpe, maar almal het die kleur blou in gemeen en bevat meer as net ‘n tikkie nostalgie.

Om die waarheid te sê, die fees gaan sorg vir genoeg om volwassenes en kleingoed besig te hou. Benewens die kunste en verhoogoptredes is daar hope aktiwiteite en veilige speelplekke vir kinders. Daar is ‘n massiewe binnenshuise speelpark op die terrein en ‘n nabygeleë klimmuur van wêreldgehalte.

Die fees word gehou by Lake Umuzi – ‘n uitgestrekte verblyf-, vermaak- en sakekompleks langs ‘n meer.

Secunda is naby talle dorpe in die suide van Mpumalanga, soos Bethal, Evander, Ermelo en Standerton, en is boonop maklik bereikbaar vanaf Middelburg en Witbank.

Die Oos-Rand is minder as ‘n uur se ry van Lake Umuzi – Secunda. Johannesburg en Pretoria is slegs ‘n uur en ‘n half na twee ure, wat die fees die ideale wegbreekgeleentheid maak vir die laaste naweek van die skoolvakansie.

Lake Umuzi bied volop verblyf. Jy kan kies uit twee hotelle, ‘n lodge en ‘n woonwapark. Umuzi Kunstefees bied ook pakkette waar jy kan kies uit ‘n tweedag en driedag pakket wat alle vertonings insluit. Indien jy Vrydag en Saterdagaand oorbly, gee ons Sondagaandverblyf komplimentêr by. Dus kan jy drie aande slaap vir die prys van twee.

Voorsiening word ook gemaak vir feesgangers wat die rugbytoets tussen die Springbokke en Ierland wil kyk – in ‘n “Bok-park” by die familierestaurant eish!!  Die wedstryd word op ‘n skerm amper so wyd soos twee rugbypale (tong in die kies) vertoon, waar jy saam met van die kunstenaars van die fees Suid Afrika agter die pale kan hou.  Pa het daarom geen verskoning om nie saam te kom nie. Benewens hierdie reuse-kuierplek is daar nog agt ander eetplekke  in die kompleks.

‘n Buitelugmark en ‘n boekwinkel in die kunsgalery vorm ook deel van die fees. Beplan jou naweek vroegtydig en wees deel van hierdie kunstefees vir almal.

Alle inligting en kaartjieverkope is hier verkrygbaar.

Vir meer inligting, kontak

Alma 083 657 5411

author-avatar

About Alma Swart

Alma Swart is ʼn entoesiastiese aspirantskrywer wat enkele kortverhale gepubliseer het. Haar agtergrond strek van dramaprojekte met tieners vir die gewilde fliek Klein Karoo asook die betrokkenheid by feesbeplanning vir die KKNK en InniBos. Deesdae is sy deel van die Lake Umuzi feesspan waar haar passie vir beplanning en mense uitgeleef kan word.

Related Posts

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *