Events @ Lake Umuzi, Lake Umuzi News

Umuzi Kunstefees – Op die verhoë

Umuzi Kunstefees Arts Festival at Lake Umuzi Waterfront Secunda South Africa

Hope humor op verhoë by Umuzi-kunstefees

As jy nie genoeg van Lizz Meiring kan kry nie, het die Umuzi Kunstefees baie goeie nuus. Sy gaan twee eenvroustukke by dié splinternuwe fees in Secunda opvoer.

Meiring ken van fyn spot en die draak steek. Maar ook hoe om ons met ander oë na onsself te laat kyk. Daarom pas die twee produksies haar baie goed: Van die rak af en Kameras, Konserte en Kleedkamers.

Die Skandinawiese projek “The Human Library“ was haar inspirasie vir Van die rak af. Die verhoog word gebruik om op humoristiese wyse stigmas en stereotipes af te breek. Dit werk in beginsel so: In plaas van ‘n boek uitneem, neem jy ‘n mens uit. Die persoon (dikwels ‘n omstrede of gemarginaliseerde persoon) vertel jou sy storie.

In Van die rak af gee Meiring lewe aan sulke mense – aan historiese, fiktiewe of mitologiese figure. Elkeen van die karakters verbeeld en vertel sy unieke verhaal. Dit is ‘n fyn kombinasie van komedie, tragedie en satire.

Maar daar is ook ‘n interaktiewe element. Die gehoor bepaal watter karakters lewe moet kry. Voor die vertoning ontvang elkeen van hulle ‘n “biblioteekkaart” met kriptiese leidrade van die karakters. Dan kies die gehoor self watter “mense“ hulle wil “uitneem” vir dié spesifieke vertoning. Die vyf karakters met die meeste stemme se storie word opgevoer.

Van die rak af sal op Vrydag 5 Julie by die fees op die planke wees.

In haar ander eenvroustuk, wat op Saterdag 6 Julie opgevoer sal word, bied Meiring ‘n humoristiese blik agter die skerms van die toneelwêreld wat sy so goed ken.

Lizz Meiring Umuzi Kunstefees Arts Festival at Lake Umuzi Waterfront Secunda

Marion Holm bring ook ‘n eenvroustuk na die Umuzi Kunstefees. Holm was onlangs op televisie te sien in die reekse Taktiek en Trompoppie, maar sy gaan nie een van daardie karakters op die verhoog laat herleef nie. Ook nie vir Suster Graaff van Suidooster of Tannie Ans van Nêrens Noord-Kaap nie.

Holm kyk in die verhoogproduksie, wat eenvoudig getitel is Marion Holm, met gans ander oë na die lewe. Sy vat gewone, alledaagse dinge vreksnaaks saam.

Umuzi Kunstefees Arts Festival at Lake Umuzi Waterfront Secunda South Africa Marion Holm

Frank Opperman bring op sy beurt nog ‘n teks van die nostalgieskrywer Dana Snyman na Umuzi se verhoog toe: Reünie.

Dié stuk speel af by die skoolreünie van die 1980-matriekklas waarin Adam Boshoff (Opperman) was. Boshoff is verteller, maar deur die loop van die aand kry talle van sy klasmaats ook ‘n spreekbeurt – natuurlik met die hulp van Opperman. So word teruggekyk na die klas se pret en plesier van destyds, maar ook na ‘n tragedie wat hulle saam beleef het.

Frank Opperman Umuzi Kunstefees Arts Festival at Lake Umuzi Waterfront Secunda South Africa

Die vyfde verhoogstuk wat by die Umuzi Kunstefees opgevoer gaan word, is Dinner for one / Sopper vir een.

As dit bekend klink, is dit met goeie rede. Die rolprentweergawe van die oorspronklike toneelstuk is jare lank op Oujaarsaand as Dinner for one op televisie vertoon.

Dié uiters snaakse klug speel af in ‘n Britse herehuis, waar die laaste oorblywende lid van die familie, Miss Sophie, haar 90ste verjaardag vier. Die hele stuk vind in die eetkamer plaas, met Miss Sophie aan die koppenent van die tafel. Plekke is ook gedek vir haar “gaste”, wat almal al dood is.

Die butler, James, moet ‘n viergang-maal bedien, met ‘n meegaande drankie vir elke gang. Aangesien nie een van die gaste in lewende lywe daar is nie, dring Miss Sophie daarop aan dat James elke gas se plek moet inneem en gevolglik al hul drankies namens hulle moet drink. Die gevolg is steierend snaaks.

Die veteraan-aktrise Elma Potgieter vertolk die rol van Miss Sophie en Justin Strydom is James.

Lefra Produksies, wat vir die stuk verantwoordelik is, het ook ‘n spesiale Afrikaanse element in die produksie ingebou. Na ‘n kort pouse na afloop van Dinner for one voer Potgieter en Strydom Sopper vir Een op. Dit is ‘n verwerking van die oorspronklike teks, maar met die rolle omgeruil vir ekstra konsternasie.

Dinner for one Sopper vir Een Umuzi Kunstefees Arts Festival at Lake Umuzi Waterfront Secunda South Africa

Die kunstefees maak egter ook vir die jongklomp voorsiening. Die prettige verhoogstuk Liewe Heksie en die tuindwergie sal so reg in hul smaak val.

Dit is ‘n unieke Liewe Heksie-verhaal wat spesiaal deur die skepper van die beminde heksie vir die verhoog geskryf is. Verna Vels het die stuk geskryf voor haar dood aan kanker in 2014.

Die rolle word vertolk deur Ana van Achterberg, Phillru van Achterberg en Botha Enslin.

Umuzi Kunstefees Arts Festival at Lake Umuzi Waterfront Secunda South Africa Liewe Heksie

Die Umuzi Kunstefees vind van 4 tot 7 Julie by die Lake Umuzi-kompleks in Secunda in Mpumalanga plaas – die laaste naweek van die skole se wintervakansie. Benewens bogenoemde verhoogproduksies, word daar ook voorsiening gemaak vir woordkuns en musiek, kabaret, ligte komedie, boekgesprekke en die visuele kunste.

Daar is nege eetplekke en volop verblyf by Lake Umuzi, insluitend twee hotelle, ‘n lodge en ‘n woonwapark. Daarbenewens is daar talle gastehuise in die omgewing.

Vir die volledige program en verblyfopsies, besoek die Lake Umuzi-webwerf.

Kaartjies is te koop by Planton.mobi.

Vir medianavrae, kontak Alma Swart by [email protected] of 0836575411

author-avatar

About Alma Swart

Alma Swart is ʼn entoesiastiese aspirantskrywer wat enkele kortverhale gepubliseer het. Haar agtergrond strek van dramaprojekte met tieners vir die gewilde fliek Klein Karoo asook die betrokkenheid by feesbeplanning vir die KKNK en InniBos. Deesdae is sy deel van die Lake Umuzi feesspan waar haar passie vir beplanning en mense uitgeleef kan word.

Related Posts

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *