
Die Vyftigers
September 20 @ 2:00 pm - 3:20 pm

🎟️ KAARTJIES BESKIKBAAR 1 JULIE!
Vyftigers: Media BLURB
“Die Vyftigers” het die land gaande.
Hierdie jaar is Afrikaans amptelik 100 jaar oud. Maar weet jy wat nog? Daar’s ’n klomp talentvolle manne wat in 2025 hul eie 50 jaar om die son vier — presies die helfte so oud soos ons geliefde Moedertaal. Wie is hulle?
Neil Sandilands, Schalk Joubert, Gian Groen en Abel Kraamsaal — vier kunstenaars, vier stories, een verhoog. Hulle skryf, speel en leef Afrikaans soos min, en nou is hulle saam op een verhoog vir ’n aand van rou, eerlike musiek en viering. Noem dit ’n bietjie sin maak van die laaste 100 jaar van taal en die laaste 50 jaar van lewe — alles in een aand, een plek, en in een kragtige, kreatiewe taal: Afrikaans.
Hulle noem hulsef “Die Vyftigers”.
“Die Vyftigers” bekoor gehore sedert April dié jaar en dié opvoering belowe om net so besonders te wees — met melodie, ritme, lag en liriek wat lank ná die laaste noot sal bly hang.
Vervaardig deur: Neil Sandilands
Musikale Regie: Schalk Joubert
Teks: Neil Sandilands, Gian Groen, Abel Kraamsaal, Schalk Joubert
Neil Sandilands
Neil Sandilands is ’n veelsydige Suid-Afrikaanse akteur, musikant, regisseur en storieverteller, wat bekendheid verwerf het vir sy werk oor verskeie platforms heen. Internasionaal word hy erken vir sy rolle as Generaal Abbot in Netflix se Sweet Tooth—wat hom ’n Emmy-benoeming besorg het— asook Clifford DeVoe/The Thinker in The Flash en Titus in THE 100. Sandilands het homself gevestig as ’n dinamiese uitvoerende kunstenaar.
Hy maak sy loopbaandebuut op 14-jarige ouderdom in die produksie Meester. Afrikaanse titels van reekse sluit in Konings, Orion, Jakhalsdans, Fees van die Ongenooides, Soutmansland en ander. Onlangs ontvang hy ’n nominasie vir beste aanbieder vir sy aanbod in kykNET se gewilde realiteitsreeks Die Groot Niks, wat die asemrowende Namibwoestyn verken. Hy verleen ook sy stem aan die Emmy-benoemde realiteitsreeks Die Brug.
Op die silwerdoek het Sandilands ’n kragtige vertolking gelewer as Wilhelm Leonberger in Paul Greengrass se News of the World, saam met Tom Hanks. Sy regisseursvernuf het hom die Suid-Afrikaanse Kunste- en Wetenskapstoekenning besorg vir Impresario. In die teater het hy ook ’n Fleur du Cap-toekenning ontvang, wat sy uiteenlopende kunsskap verder bevestig.
As musikant het Sandilands drie albums uitgereik: Sangoma Sandilands & Jou Pa se Posse – Maanskyn, Allegaarkie vir ’n Askeet en Land & Sand. Die albums het Suid-Afrikaanse Musiektoekennings-benoemings ontvang in die kategorie Beste Afrikaanse Kontemporêre Album, en beklemtoon sy liriese diepte en musikale bekwaamheid. Die twee EP’s is getiteld Die Groot 5 en Die Groot Niks.
Verteenwoordig deur Stewart Talent (VSA) en FigJam (Suid-Afrika), en bestuur deur Luber Roklin Entertainment, bly Neil Sandilands gehore wêreldwyd boei met sy veelfasettige talent. Hy woon tans in Onrus, Overstrand.
Schalk Joubert
Schalk Joubert is ‘n veelbekroonde Suid-Afrikaanse musikant, bekend vir sy kundigheid as baskitaarspeler, komponis, musikale regisseur en vervaardiger.
Aktief sedert sy tienerjare, het Schalk homself gevestig as een van Suid-Afrika se mees prominente en veelsydige baskitaarspelers. Schalk het met talle Suid-Afrikaanse en internasionale kunstenaars saamgewerk, insluitend Hugh Masekela, David Kramer, Louis Mhlanga, Crash Test Dummies en Strawbs.
Schalk het al opgetree in die VSA, VK, Frankryk, Nederland, Duitsland, Australië, Nieu-Seeland, Indië, Borneo, Maleisië, Mongolië en vele Afrika-lande.
Dit sluit optredes by elite-lokale en feeste soos Carnegie Hall in New York, Cropredy-fees in Engeland en die Byron Bay Blues-fees in Australië in.
As filmkomponis vir beide nasionale en internasionale films en tv reekse het hy al twee SAFTA-benoemings ontvang. Sy temalied vir die gewilde program Boer Soek ’n Vrou is al sedert 2008 jaarliks bekend.
In 2020 was hy die ontvanger van die Kunste Onbeperk Kruispunt-prys vir ‘n loopbaan met integriteit en iemand wat ‘n enorme bydrae oor jare aan die KKNK en die bedryf gelewer het.
Schalk het ook musiek onderrig gegee in Suid-Afrika, Europa en Mongolië. Hy is aktief betrokke met internasionale musiekuitruilprogramme om Suid-Afrikaanse en Afrika-musiek te bevorder. Hy woon tans in Stellenbosch, Wes-Kaap
Abel Kraamsaal
Abel Kraamsaal is gebore (ahem) toe Koos Kombuis hom gevra het om die voorvertoning vir hom te doen in 2002, na gelang van ‘n paar tunes wat Abel onder ‘n vyeboom in Koos se agterplaas vir hom gespeel het. Dieselfde aand ontmoet Abel vir Gian Groen en ‘n hegte band ontstaan. 4 albums volg uit Kraamsaal se pen…sover.
Sy albumtitels is keurig: Woorde op ‘n Wynboks, Wonder jy ook soms, Sondeval, Die afstand tussen tyd.
Abel konsulteer vir globale maatskappye met groei in die Midde-Ooste, Afrika en Turkye. Hy het nagenoeg twee dekades lank korporatief gewerk en tyd met familiesake verwyl, totdat Neil Sandilands hom op ’n dag gebel het. Hy woon tans in Gqberha, Oos-Kaap
Gian Groen
Gian Groen skop in 1999 sy loopbaan af as voorsanger en liedjieskrywer van die eertydse rockgroep, Spinnekop. Die liedjie wat Gian se aanvanklike sukses as liedjieskrywer bepaal, is Vier Seisoene Kind, wat in 2001 opgeneem is deur Laurika Rauch. Gian word in 2022 deur die FAK vereer vir die rare akkolade dat Vier Seisoene Kind die Afrikaanse lied word wat die meeste deur ander kunstenaars opgeneem is.
As liedjieskrywer word Gian vanuit velerlei oorde genader om ook vir ander kunstenaars te skryf. Talle benoemings en vererings volg.
Sy liriek en komposisies word herken aan melankoliese teerheid en emosionele kompleksiteit. Gedurende die 26 jaar, verskyn 8 albums en tientalle enkelsnitte soos Lonely Troebadoer, Swerwer en Gita-Blom wat gereeld in die top 5 van radiostasies figureer.
Hy deel gereeld die verhoog met groot name in die musiekbedryf, en is betrokke by verkeie projekte soos bv. Rock en Roll digters saam met Herman Kleinhans en Jan Blohm, en nou ook Die Vyftigers, saam met Abel Kraamsaal, Neil Sandilands en Schalk Joubert. Gian woon tans in Grabouw, Wes-Kaap.